Radio Overberg 101.8 FM

...op jou frekwensie!

Get Adobe Flash player
Javascript error before this line

 

small 4ab9b

Radio Overberg Blog

Najaag van syfers raak só publiek kwyt

Peter KramerWat oorleef sakewêreld se grille?

Kaapstad se dekades lange bande met klassieke musiek word in die meeste kettingwinkels nie weergegee in die aanbod nie. Is daar deesdae dan minder kopers van klassieke musiek? Willem de Vries bekyk ’n klassiekemusiekwinkel van vroeër en die huidige stand van sake.

In die Kaap van weleer was veral één plek waar jy klassieke musiek gekoop het en waar jy van kundigheid verseker was: Hans Kramer’s House of Music (1955 tot 1985) in Langstraat.

Vandag, dekades later, is winkels in die stad waar kundigheid en volop klassieke musiek beskikbaar is, ­opnuut seldsaam. Intussen is geen uit­reikings in ’n klassieke of ander ­musiekrigting die omwentelinge in die musiekbedryf in die laaste paar jare gespaar nie. En in ­watter kettingwinkels sien ’n mens nog ’n groot verskeidenheid van klas­sieke ­musiek?

“Op groot winkels maak tien ­eenhede geen indruk nie, maar vir mý beteken dit wel baie,” vertel die ­musiekhandelaar Peter Kramer, ­iemand wat al meer as 40 jaar in die musiekhandel werk, eers aan die groothandel-kant; deesdae verkoop hy direk aan die publiek.

Sy pa se winkel op die eerste ver­dieping van Langham House in Langstraat, het ­benewens talle plate, ook bladmusiek verkoop. Aan die mure was foto’s van internasionale musici wat in die Kaap vir die Kaapstadse Konsertklub ­opgetree het.

“My pa het iets geskép in daardie jare: Hy het die Kaapstadse Konsertklub begin in 1955 en dit tot 1992 ­gelei.” Vandag nog tree besoekende kunstenaars telkens vir die Kaapstadse Konsert­reeks (soos die konsertklub vandag bekend staan) in die Baxter in Rondebosch ­op, sowel as die Kaapse Filharmoniese Orkes.

Die eerste loket van Computicket was in dié winkel en my pa was die eerste agent vir Bang & Olufsen in die stad. Ja, hy, sowel as die musiek­winkel, was ’n instelling.

 “Die eerste loket van Computicket was in dié winkel en my pa was die eerste agent vir Bang & Olufsen in die stad. Ja, hy, sowel as die musiek­winkel, was ’n instelling. Ek kan dit nie anders beskryf nie.”

Sedert die winkel sy deure ­toe­gemaak het, het talle musiekformate en faktore bygekom soos verskeie ­digitale formate en die kopiereg­wildeweste van die internet.

Voordat die stygende petrolprys sy sake bemoeilik het en die wisselkoers meer aan ’n mens se kant was, is ­Peter Kramer gereeld in sy motor met ’n sleepwaentjie na ­Graham­stad, Port Elizabeth, Knysna en ander plekke om klassieke musiek op DVD en CD bekend te stel en te ­verkoop.

In Kaapstad is sy gereelde verkooppunt in die Kunstekaap, en in ­Muizenberg die Masque-teater.

“Mense vergeet van die Suid-skiereiland,” sê hy. Dit is ook van toepassing op ander plekke buite die stad.

“Mense wat daar woon, is telkens ouer, wil dalk nie in die aand uitgaan of heelpad Kaapstad toe ry nie, maar hulle koop steeds graag ­musiek.”

Afskepery in groot musiekwinkels het daartoe gelei dat iemand soos Kramer ’n nis vir klassieke­musiekverkope gevind het. Daar is talle ­kopers van musiek wat in ­operas, ­ballette en in konserte gehoor word, laat hy blyk.

Die toename in DVD-verkope en Blu-ray, skryf hy toe aan ­onder meer die hernude opkoms van ’n soort tuis­vermaak. “Dit het ’n ander dimensie gekry. In die Kaap kom mense by­mekaar om saam DVD’s te kyk as ’n soort tuiskonsert. Die fliekproduksies in die Fugard en Nouveau wys ook die gewildheid van verfilmde ­musiek- en ander verhoogwerke.”

Instrumentale meesterklasse op DVD “is deesdae baie gewild, ook dokumentêre programme oor musici”.

“Talle Romantiese komponiste wat tot nog toe onbekend was, word nou opgeneem en uitgereik. Dit is ’n ­onlangse ontwikkeling. Ook kry ek deesdae navrae oor opnames van die óú sangers, van die 1920’s en 1930’s, Caruso en ander. Dít begin nou optel.

“Ek sien heeltyd nuwe gesigte, ander mense wat musiek kom koop. Jongeres ook. Hulle hoor dalk ’n cross­over-werk en kom doen dan navrae oor iets in die klassieke rigting.”

Ná die opkoms van CD’s en daarmee saam ’n groot hoeveelheid ­musiekwinkels wat later ook weer weg is of verklein het, lyk dit of die ­bedryf in ’n digitale rigting blý stuur. Terselfdertyd keer vinielplate ­inter­nasionaal terug na rakke.

Die musiekwêreld internasionaal het só verander. Die bedryfsdeel krimp. Ek hou wel vol met wat ek weet hier vir my wérk.

 “Die musiekwêreld internasionaal het só verander,” gee Kramer te ­kenne. “Die bedryfsdeel krimp. Ek hou wel vol met wat ek weet hier vir my wérk.”

Die dae van Hans Kramer’s House of Music, met sy rooi tapyt wat “vir ­elke klant uitgerol is”, is deel van die stad se geskiedenis.

Vroeëre sake­modelle waarby ­klassieke musiek ­ingeval het, werk nie meer vir groot winkels nie weens die ­aggressiewe najaag van verkoop­syfers en ’n duideliker toekoms het nog nie aangebreek nie.

Werke wat die sakewêreld se grille en oorloë wel behoort te oorleef, het iets ­gemeen: gehalte. Dít vind altyd ’n ­entoesiastiese publiek, langs watter kanale dan ook.

Besoek “Dynamite Music” op ­Facebook.